volle GESKIEDENIS
Hoërskool Marais Viljoen is vernoem na die voormalige Staatspresident en LP vir Alberton, Marais Viljoen. Hy het die skool amptelik op 1 September 1961 geopen.
Mnr. Piet Myburgh is aangestel as die eerste skoolhoof. Hy is in 1979 opgevolg deur mnr. Philip Fouché.
Mnr. Fouché het in 1989 afgetree en is opgevolg deur mnr. Hannes le Roux, wat vanaf April 1989 tot Maart 2004 as hoof gedien het. In April 2004 is mev. Martie Heystek as waarnemende hoof aangestel, en op 1 Januarie 2005 is sy amptelik as skoolhoof van Hoërskool Marais Viljoen aangestel.
Mev. Heystek het in 2022 afgetree en word opgevolg deur Dr. Johlet Krause wat amptelik vanaf 1 Mei 2023 as hoof aangestel is.
Die skool het oorspronklik as ’n tegniese en beroepsgerigte skool begin. In 1979 is die beroepskomponent uitgefaseer, waarna Marais Viljoen ’n breër akademiese rigting ingeslaan het met ’n verskeidenheid vakke binne tegniese, wetenskaplike en algemene studierigtings.
Met die uitbreiding van die vakkeuses is daar in 1995 besluit dat Marais Viljoen Tegnieseskool voortaan as Hoërskool Marais Viljoen bekend sou staan.
Hoërskool Marais Viljoen is ’n dinamiese skool met ’n sterk fokus op sport, akademie en kultuur, en lewer jaar na jaar uitmuntende prestasies op alle terreine.